Van die Paarl na
Pretoria.
4 Augustus 2011. Die Picfords lorrie stoot agteruit in
Durrstraat en kom staan voor nommer 11. Die deure van die vragkant kreun oop.
‘n Span kom neem die huis oor en binne ure is 4 jaar se verblyf opgepak, verpak
en ingepak. Die einde van ‘n hoofstuk maar ook die begin van ‘n nuwe opwindende
een. Karretjies trek Pretoria toe om ‘n lewe saam met my te begin. ‘n Groot
stap in ‘n jong vrou se lewe maar ook een nader aan groter sukses by die werk.
Ek kan sien dat die trane maar vlak sit toe die Vragmotor stadig sy ry kry die
afdraande af. Die Polotjie is ook propvol gestop. Die groot trek het begin.
Picfords sal die trek eers stoor vir ‘n wyle en ons het 600km tot in Victoria
Wes om met ons trek te gaan. Dis net na 3uur toe ons die Paarl in die tru
spieëltjie sien weg raak. Ons slaap by familie voordat ons na Victoria Wes ry .Nou ja die N1 na Victoria Wes is die
maklikste en vinnigste maar wie is nou haastig. Ons besluit om die pad te vat
na Ceres.
Die pad oor Wellington na Ceres is wragtig mooi.Die
ongenaakbaarheid van die berge in Ceres maak mens sommer benoud. Dis rowwe
berge die. Nie Heidie se berge nie. Sneeu bedekte berg piekke rond die prentjie
mooi af. 40 km buite Ceres op die pad na Sutherland kry ons ‘n afdraai pad na
Touwsrivier. Die pad sluit by die N1 aan. Die pad Sutherland toe is nog 152km
en Touws Rivier is 60km. Sutherland toe is egter ‘n grond pad. Dit neem nie
baie om Karretjies te oorreed dat die grondpad goed lyk om te ry nie. Van
Sutherland is dit Fraserburg toe, dan Loxton en dan is ons by Victoria Wes. So
ry die Polotjie die grondpad soos ‘n droom. Goeie oppervlak en ons kan so
80 kmpu handhaaf. Die Karoo is geweldig mooi en groen.
Deur elke driffie vloei daar ‘n water stroompie. In die
middel van nêrens kry ons ‘n naam bordjie “Elders”. So dis hier waar Haas Das
gesê het dit rëen as dit nie iewers ander rëen nie. Die grondpad kronkel voort
en ons kom by ‘n vurk in die pad aan. Sutherland reguit aan en Matjiesfontein
regs. Dis net na eenuur die middag en ons besluit ten spite van die koue om
maar met die grondpad aan te hou. Dis ‘n effe draai om nou Matjiesfontein toe
te ry en dan met die N1 aan te hou. Ons het mos nog tyd.
Die omgewing laat ons in vervoering en skielik is daar twee
bakoor jakkalssies in die pad voor ons. Dis die vyand vir enige skaap boer.
Speels probeer ek hulle raak ry maar hulle is te rats. Voor my is ‘n bietjie
groter drif as gewoonlik en ek skakel tweede rat toe net toe ons deur is. Die
Polotjie begin skielik rond gly en sie daar. Daar sit ons in die modder vas.
Geen problem nie reken ek. Al die 4x4 programme op tv wys mens mos hoe om uit
so situasie te kom. Trek net ‘n paar bossies uit en sit dit voor die wiele.
Tjop Tjop dan is jy uit. “Ye right”, miskien met ‘n 4x4 maar nie met ‘n
polotjie nie.Mens kan darem nie dat die vrou in jou lewe in die modder laat rond
ploeter nie, so terwyl sy sit, spook en met karoo bossies. Die keerpunt het
gekom toe ek nog ‘n tree wou gee en my geliefde vellie bly in die modder agter.
Na ‘n skaterlag besluit sy maar toe om handjie by te sit. Sowat ‘n halfuur lank word daar gespook voordat die wiele vastrap plek
kry en ek soos ‘n wafferse Geniel de Villiers die outjie gly gly deur die
modder uit ry tot op vaste grond. Karretjies kom agterna gestap want daar was
nie tyd vir stop toe die wiele vasvat nie. Gelukkig sien sy dit as groot pret
en daar gaat ons. Die T aansluiting wys Sutherland links Matjiesfontein regs.
Ons laaste kans om by die N1 aan te sluit. Ons was nog nie een van te vore op
Sutherland nie en besluit om te gaan kyk wat daar aangaan. ‘n Paar kilometer
van die T aansluiting sien ons hompe ys in die teerpad lê. Kompleet asof iemand
crushed ice uit sy Coolboks gegooi het. Wat ‘n gesig toe ons die poort binne
ry. Sneeu net waar jy kyk. Dis ‘n eerste vir my in Suid- Afrika. Ons ry deur
die tweespoor paadjie van sneeu tot ons ‘n plekkie kry om stilt te hou. Hier
moet mens mos eers bietjie uitklim en die sneeu ervaar.
Dis net na 5uur die middag toe ons voor die hek van die Sutherland Observatorium stop. Die plek is
ongelukkig toe. Die teerpad hou ook hier op. Gelukkig lyk die grondpad rybaar
en ons is definitief nie lus om, om te draai nie. Ons raadpleeg die pad atlas
en bereken dat Victoria Wes net 300km hiervan is. Geen probleem. Ons beleef
weer ‘n ongelooflike sonsondergaan net voor ons Fraserburg kry. Die afstand en
die tyd wat dit ons geneem het om dit af te lê maak my ietwat bekommerd. Die nag het ons skielik oorval en hier is die
nag, nag. Die padoppervlakte het met rasse skrede verswak en dit voel of die
polotjie uitmekaar gaan skud. Deurdruk moet ons maar, want van omdraai is daar
geen sprake nie. 300km gaan my nie onderkry nie. Soos ‘n ligtoring verskyn daar
met eens ‘n bordjie wat aandui, Beaufort- Wes regs. Dit klink soos teerpad wat
naby is. Net daar draai ons af maar o wee. Die “groot” grondpad verander in ‘n
tweespoor padjie. Ons ry tussen ‘n plaashuis en sy buite geboue deur en kort
voor lank moet Karretjies hekke oop maak. Verbeel jou, in die middel van die
nag hekke oopmaak. Steeds draai ons nie om nie. Skielik begin daar wit vlokkies
op die voorruit val. Dit kan nie waar wees nie. Die tweespoor padjie begin wit
skyn in die motor se lig. Dit sneeu!!! Hier is ons tussen êrens en nêrens in
die donker van die nag op ‘n tweespoor padjie en dit sneeu. Daar is nie ‘n lig
in sig nie. ‘n Verbaasde 4x4 bakkie ry by ons verby en los ons die nag in. Die
pad kronkel en ek moet diep gaan delf om my B en O weermag kursus toertjies te
herrroep. Skakeurings van donker. Waar dit baie donker is ,is daar dalk afgrond
of walle. Nou begin die polotjie rond gly op die modder paaie. Ai Geniel waar is
jy as mens jou nodig het. Gly-gly , gly ons die donker nag binne. Karretjies se
ouers moet al erg bekommerd wees want ons sou al 5 uur in Victoria Wes wees.
Soos die paaie kronkel so gly ons saam. Ek kan nie glo dat ek ons in so
situasie gekry het nie. Dit voel kompleet of ons weggeraap is en op ‘n verlate
planeet neergesit is.
Ons sien ‘n bewegende lig en die hoop vlam op dat ons naby
beskawing kan wees. Sowaar ‘n T aansluiting. Loxton links en Beauford Wes regs.
Genadiglik. Selfoon opvangs help om verskoning te maak by die oumense wat wag.
Dis nou nie meer vêr nie en dis gelukkig teerpad. ‘n Vlaag sneeu tref die
voorruit en die ruitveers spook om die ruit skoon te hou. Vreugde was van korte
duur toe ons die teer onder ons voel wegraak. Nog ‘n grondpad. ‘n Verlate bordjie kondig aan dat die Molteno pas voor
ons is. Met gevoel , genade en baie gebede kruip ons die pas af tot waar die teer
ons weer verwelkom. By die kruising dui die bordjies aan Drie Susters links en
Beaufort Wes regs. Met al die opwinding van die nag het ek nooit die petrol meter
dop gehou nie en sonder aarseling ry ons eers Beaufort Wes toe om te gaan
volmaak. Net na 11 die aand ry ons in Pastoriestraat af. Moeë, dankbare oë
groet ons met groot verligting. Die gemesde kalf het al uitgedroog maar nog
nooit was ‘n skaapboud en groente so lekker nie.
No comments:
Post a Comment