Monday 27 January 2014


Van die Paarl na Pretoria.

4 Augustus 2011. Die Picfords lorrie stoot agteruit in Durrstraat en kom staan voor nommer 11. Die deure van die vragkant kreun oop. ‘n Span kom neem die huis oor en binne ure is 4 jaar se verblyf opgepak, verpak en ingepak. Die einde van ‘n hoofstuk maar ook die begin van ‘n nuwe opwindende een. Karretjies trek Pretoria toe om ‘n lewe saam met my te begin. ‘n Groot stap in ‘n jong vrou se lewe maar ook een nader aan groter sukses by die werk. Ek kan sien dat die trane maar vlak sit toe die Vragmotor stadig sy ry kry die afdraande af. Die Polotjie is ook propvol gestop. Die groot trek het begin. Picfords sal die trek eers stoor vir ‘n wyle en ons het 600km tot in Victoria Wes om met ons trek te gaan. Dis net na 3uur toe ons die Paarl in die tru spieëltjie sien weg raak. Ons slaap by familie voordat ons na Victoria Wes  ry .Nou ja die N1 na Victoria Wes is die maklikste en vinnigste maar wie is nou haastig. Ons besluit om die pad te vat na Ceres.


 
Die pad oor Wellington na Ceres is wragtig mooi.Die ongenaakbaarheid van die berge in Ceres maak mens sommer benoud. Dis rowwe berge die. Nie Heidie se berge nie. Sneeu bedekte berg piekke rond die prentjie mooi af. 40 km buite Ceres op die pad na Sutherland kry ons ‘n afdraai pad na Touwsrivier. Die pad sluit by die N1 aan. Die pad Sutherland toe is nog 152km en Touws Rivier is 60km. Sutherland toe is egter ‘n grond pad. Dit neem nie baie om Karretjies te oorreed dat die grondpad goed lyk om te ry nie. Van Sutherland is dit Fraserburg toe, dan Loxton en dan is ons by Victoria Wes. So ry die Polotjie die grondpad soos ‘n droom. Goeie oppervlak en ons kan so 80 kmpu handhaaf. Die Karoo is geweldig mooi en groen.

 
Deur elke driffie vloei daar ‘n water stroompie. In die middel van nêrens kry ons ‘n naam bordjie “Elders”. So dis hier waar Haas Das gesê het dit rëen as dit nie iewers ander rëen nie. Die grondpad kronkel voort en ons kom by ‘n vurk in die pad aan. Sutherland reguit aan en Matjiesfontein regs. Dis net na eenuur die middag en ons besluit ten spite van die koue om maar met die grondpad aan te hou. Dis ‘n effe draai om nou Matjiesfontein toe te ry en dan met die N1 aan te hou. Ons het mos nog tyd.
Die omgewing laat ons in vervoering en skielik is daar twee bakoor jakkalssies in die pad voor ons. Dis die vyand vir enige skaap boer. Speels probeer ek hulle raak ry maar hulle is te rats. Voor my is ‘n bietjie groter drif as gewoonlik en ek skakel tweede rat toe net toe ons deur is. Die Polotjie begin skielik rond gly en sie daar. Daar sit ons in die modder vas. Geen problem nie reken ek. Al die 4x4 programme op tv wys mens mos hoe om uit so situasie te kom. Trek net ‘n paar bossies uit en sit dit voor die wiele. Tjop Tjop dan is jy uit. “Ye right”, miskien met ‘n 4x4 maar nie met ‘n polotjie nie.Mens kan darem nie dat die vrou in jou lewe in die modder laat rond ploeter nie, so terwyl sy sit, spook en met karoo bossies. Die keerpunt het gekom toe ek nog ‘n tree wou gee en my geliefde vellie bly in die modder agter. Na ‘n skaterlag besluit sy maar toe om handjie  by te sit. Sowat ‘n halfuur  lank  word daar gespook voordat die wiele vastrap plek kry en ek soos ‘n wafferse Geniel de Villiers die outjie gly gly deur die modder uit ry tot op vaste grond. Karretjies kom agterna gestap want daar was nie tyd vir stop toe die wiele vasvat nie. Gelukkig sien sy dit as groot pret en daar gaat ons. Die T aansluiting wys Sutherland links Matjiesfontein regs. Ons laaste kans om by die N1 aan te sluit. Ons was nog nie een van te vore op Sutherland nie en besluit om te gaan kyk wat daar aangaan. ‘n Paar kilometer van die T aansluiting sien ons hompe ys in die teerpad lê. Kompleet asof iemand crushed ice uit sy Coolboks gegooi het. Wat ‘n gesig toe ons die poort binne ry. Sneeu net waar jy kyk. Dis ‘n eerste vir my in Suid- Afrika. Ons ry deur die tweespoor paadjie van sneeu tot ons ‘n plekkie kry om stilt te hou. Hier moet mens mos eers bietjie uitklim en die sneeu ervaar.
 

 

Dis net na 5uur die middag toe ons voor die hek van die  Sutherland Observatorium stop. Die plek is ongelukkig toe. Die teerpad hou ook hier op. Gelukkig lyk die grondpad rybaar en ons is definitief nie lus om, om te draai nie. Ons raadpleeg die pad atlas en bereken dat Victoria Wes net 300km hiervan is. Geen probleem. Ons beleef weer ‘n ongelooflike sonsondergaan net voor ons Fraserburg kry. Die afstand en die tyd wat dit ons geneem het om dit af te lê maak my ietwat bekommerd.  Die nag het ons skielik oorval en hier is die nag, nag. Die padoppervlakte het met rasse skrede verswak en dit voel of die polotjie uitmekaar gaan skud. Deurdruk moet ons maar, want van omdraai is daar geen sprake nie. 300km gaan my nie onderkry nie. Soos ‘n ligtoring verskyn daar met eens ‘n bordjie wat aandui, Beaufort- Wes regs. Dit klink soos teerpad wat naby is. Net daar draai ons af maar o wee. Die “groot” grondpad verander in ‘n tweespoor padjie. Ons ry tussen ‘n plaashuis en sy buite geboue deur en kort voor lank moet Karretjies hekke oop maak. Verbeel jou, in die middel van die nag hekke oopmaak. Steeds draai ons nie om nie. Skielik begin daar wit vlokkies op die voorruit val. Dit kan nie waar wees nie. Die tweespoor padjie begin wit skyn in die motor se lig. Dit sneeu!!! Hier is ons tussen êrens en nêrens in die donker van die nag op ‘n tweespoor padjie en dit sneeu. Daar is nie ‘n lig in sig nie. ‘n Verbaasde 4x4 bakkie ry by ons verby en los ons die nag in. Die pad kronkel en ek moet diep gaan delf om my B en O weermag kursus toertjies te herrroep. Skakeurings van donker. Waar dit baie donker is ,is daar dalk afgrond of walle. Nou begin die polotjie rond gly op die modder paaie. Ai Geniel waar is jy as mens jou nodig het. Gly-gly , gly ons die donker nag binne. Karretjies se ouers moet al erg bekommerd wees want ons sou al 5 uur in Victoria Wes wees. Soos die paaie kronkel so gly ons saam. Ek kan nie glo dat ek ons in so situasie gekry het nie. Dit voel kompleet of ons weggeraap is en op ‘n verlate planeet neergesit is.
Ons sien ‘n bewegende lig en die hoop vlam op dat ons naby beskawing kan wees. Sowaar ‘n T aansluiting. Loxton links en Beauford Wes regs. Genadiglik. Selfoon opvangs help om verskoning te maak by die oumense wat wag. Dis nou nie meer vêr nie en dis gelukkig teerpad. ‘n Vlaag sneeu tref die voorruit en die ruitveers spook om die ruit skoon te hou. Vreugde was van korte duur toe ons die teer onder ons voel wegraak. Nog ‘n grondpad. ‘n Verlate  bordjie kondig aan dat die Molteno pas voor ons is. Met gevoel , genade en baie gebede kruip ons die pas af tot waar die teer ons weer verwelkom. By die kruising dui die bordjies aan Drie Susters links en Beaufort Wes regs. Met al die opwinding van die nag het ek nooit die petrol meter dop gehou nie en sonder aarseling ry ons eers Beaufort Wes toe om te gaan volmaak. Net na 11 die aand ry ons in Pastoriestraat af. Moeë, dankbare oë groet ons met groot verligting. Die gemesde kalf het al uitgedroog maar nog nooit was ‘n skaapboud en groente so lekker nie.

Tuesday 21 January 2014


Die N9 neem ons oor Aberdeen, Graaff Reinette na Middelburg. Aberdeen was ‘n groot teleurstelling. Die dorpie laat mens aan Loxton dink maar is erg verwaarloos. Dis regtig baie hartseer om die klein plattelandse dorpies so vervalle te sien. Wonder hoe dit 30 jaar gelede daar gelyk het.
 
 
 
Die landskap van die omgewing is egter pragtig. Dis selfs groen, wat snaaks is vir die tyd van die jaar. Graaf Reinett bly maar ‘n mooi dorp. Die Drosdy is ‘n gunsteling oornag plekkie en is tans besig om opgeknap te word. Die dorpie het ‘n noue band met die Ruperts ,wat gelukkig is ,want hulle kyk ook dat dinge nie verval nie. By Middelburg draai ons oos en vat die pad na Aliwal Noord. Die son trek water en ons kom sterk skemer in Aliwal Noord aan. Hier gebeur dinge. Die dorp is veral bekend vir sy warm water bronne en is geleë aan die suidelike oewer van die Oranje Rivier. Ons oornag by die Riverside Lodge wat op die oewer van die rivier gebou is. Van buite af lyk dit na ‘n wonderlike plek.
 
 
 
Mens wonder egter hoe werk die ster gradering van Lodges en Gaste huise. Die plek is kwansuis 3 ster maar as jy die stort se deur oop maak en die seepbakkie hang aan ‘n draadjie , begin mens wonder. Wel dis ‘n oornag plek en is darem skoon. Weer word ons verras toe die restaurant bestuurder ons kwart voor tien die aand laat weet die plek maak tien uur toe. Ons moes toe maar die botteltjie wyn op die kamer se stoep gaan klaar drink.

Na ‘n lekker ontbyt op die stoep van die Lodge sleep ons ons voete motor se kant toe. Dis die laaste dag van ‘n ongelooflike reis. Ons slaap vannaand by die huis. Gelukkig is daar nog ‘n paar interessante dorpies oppad om te besoek. Ficksburg bly darem ‘n mooi dorp. Natuurlik bekend vir die kersiefees en aspersies, Onwillekeurig wonder ek of een van my weermag vriende nog in die omgewing boer.
 
Ek kom gou agter dat die grond paaie van die Noord Kaap duidelik in ‘n baie beter kondisie as die teer paaie van die Oos Vrystaat is, soos wat ons na Senekal ry. Die dorp met my van. Die dorp is vernoem na ‘n kommendant FP Senekal wat in die Basoetoe oorlog omgekom het. Was dit nie vir die mooi kerk nie sou ek baie teleurgested gewees het.


 
 
 Van my ma en pa se familie het in die oos Vrystaat gewoon en ons ry verby Lindley waar my ouma en klaarbleiklik Danie Craven groot geword het. Ons reis begin einde se kant toe staan soos die son sak. Ek word met ‘n lekker donderstorm en spits verkeer terug verwelkom in Gauteng. Al wat nou oorbly is om maar weer die kaart boek nader te trek en die volgende roete te beplan. Ai ons woon in so pragtige land, net jammer die platteland het so agteruit gegaan.

Friday 17 January 2014


Die C Gypsy restaurant in die hawe is die plek waar ons die res van ons saterdag middag deur bring.Sondag word die geelstert gebraai terwyl ons heerlik op die dek sit en kuier en oor die see uitkyk. My ou groot maat van Knysna kom kuier en die feesie hou aan tot in die vroëe oggend ure. Maandag gaan wys Ligblou hulle vir ons ‘n plek wat jy nie sou kon raai so naby die see kan wees nie.Dis die Botelierskop Privaat Wildtuin. ‘n 3000ha wildsplaas met die groot 5 skaars 10km van die see  af. ‘n Juweel wat baie min mense van weet. Verder gaan wys hulle vir ons die weelde van Ou Baai Golf Landgoed en ons ry ‘n draai deur Hartenbos waar ons ietsie geniet op ‘n stoep met ‘n hemelse uitsig oor die baai.

 
 







Onwillekeurig moet ek ons roete terug Pretoria toe begin beplan. Weereens prober ons die hoof roetes vermy.Van Tergniet af dink ek moet ons Knysna se kant toe. Daar wegdraai deur Prince Alfreds Pas na Uniondale en die N9 na Aberdeen en GraaffReinet. Van Graaff Reinet   Middelburg toe  en dan oor Steynsburg, Burgersdorp tot in Aliwal Noord. Hier sal ons uitspan .

Dis met ‘n tikkie hartseer dat ons op ‘n baie mooi dag die vriende by C the View gastehuis groet. Ons kuier by die see was inderdaad heel aangenaam. Die gedagte dat ons die laaste been van ons reis aanpak laat ‘n wrang smaak in die mond. Groet is nooit lekker  nie en selfs die staf kom groet ons. Gelukkig ry ons darem nog ‘n ent langs die see voor ons net buite Knysna die afdraai kry na Uniondale. Die paadjie begin met kronkels deur ‘n plantasie is is wonderlik mooi. Later word dit ‘n grondpad en voor ons weet ry ons deur die staatsbosse. Dis nou hier iewers waar Daleen Matthee se boek “ Kringe in die bos” moes afspeel . Die grondpad kronkel al hoe dieper die woud in. Vaarings staan soos ‘n erewag langs die pad terwyl klein stroompies verby hul vloei.
 
 
Die mint  reuk van die bloekom bome hang soos mis in die lug. Wat ‘n voorreg om die prentjie te kan beleef. Party plekke is die grondpad gehul in die koelte soos wat die boom toppe ‘n koepel vorm. Die stilte word verbreek deur twee motorfiets ryers wat van vooraf verby ons kom. Dit moet nou ‘n ondervinding en ‘n half wees om die paadjie met ‘n moterfiets te ry. Ons draai af na die groot boom  van King Edward VII. ‘n Geelhoutboom wat oor die seshonderd jaar oud is. Kan jy jou indink die stories wat die ou grote kan vertel. Die grootsheid van die woud laat mens klein en nietig voel. Die wandelpaadjie is 450 meter deur die woud. Iets besonders om te beleef. Gelukkig was daar niemand anders daar nie en kon ons die skoonheid van die natuur en bos in stilte beleef. Hier wil ek eendag ‘n vleisie kom braai in die piekniek area.
 
Ons ry al höer en höer met die paadjie die woud in. Later word die bloekombome al hoe minder en die dennebome al hoe meer. Die woud begin plek maat vir plantasies.
 
 Ons ry deur die Prins Alfred’s pas.Dis weer een van Thamas Bain se meesterstukke, Die pas is in 1866 gebou ,is 80.5km lank en 1040 meter bo seespiël op sy kruin. Dit maak dit sy  langste pas wat hy gebou het. Weereeens ‘n ondervinding wat mens nie regtig in woorde kan omskryf nie
 
. Na die asemrowende ondervinding word ons begroet met ‘n besonderse mooi kerk in Uniondale.
Die dorpie het in 1865 ontstaan met die samesmelting van Hopedale en Lyons en is natuurlik bekend vir sy spookstorie.
 
 

Monday 13 January 2014


Die volgende paar dae bring ons rustig by die huisie deur. Intussen het die weer ook begin draai en ek beleef vir die eerste keer ‘n donderstorm langs die kus. Die rëen dwing ons binneshuis en ons kry uiteindelik tyd om ons legkaart te bou, boek te lees en sommer net rond te lê en niks doen nie. Dis mos eintlik waarvoor vakansie daar is of hoe? Dit gee my ook geleendheid om ons roete Tergniet toe te beplan. Ons gaan so vier dae by vriend Ligblou kuier voor ons die tog terug Gauteng toe aanpak.

Van Franskraal af wil ek oor Elim na Bredasdorp ry en van daar af na Malgas . Daar is nog ‘n pont wat jou voertuig oor die Brëe Rivier neem. Daarvan na Suurbraak en dan weer deur die Tradouws Pas na Barrydale waar ek ‘n voorraad brandewyn moet oplaai vir UDACS. Van Barrydale af na Brandrivier, Langberg en dan deur Cloetespas na Herbertsdale. Dan deur die Du Plessis pas in die rigting van die N2 wat ons by aansluit net voor Mosselbaai. Gelukkig is dit net ‘n kort entjie op die N2 voor ons wegdraai na Tergniet.

Die dag breek aan dat ons moet afskeid neem van die huisie in Franskraal. Dit was ‘n lekker tydjie en die huisie het ons groot vreugde verskaf. Daar is net een klein probleempie. As gevolg van die swaar rëen op plekke in die binneland is van die paaie toegemaak weens vloed skade. Nie ‘n lekker gevoel as jy agtepaaie wil ry nie. Die pad Elim toe is gelukkig nog oop en kan ons sonder moeite daarheen ry.  Na ons eerste besoek aan die dorpie het ek gelees dat daar die enigste monument in Suid Afrika staan ter herdenking van die vrylating van die slawe. Dit moet eers afgenemm word voordat ons verder kan ry.

 


 Op Bredasdorp lig die petrol joggie ons in dat die pad Malgas se kant toe geen problem is om te ry nie. ‘n Lekker droë grondpad. Groot was my teleurstelling toe ons by die pond aankom. Die Brëede Rivier se vlak het so gestyg dat ons nie met die pond die rivier kan oorsteek nie. Na ‘n lekker ou toebroodjie draai ons maar terug op ons spore en ry Swellendam toe.
 

Die Tradouws Pas is ‘n belewenis. Ooral is daar watervalletjies en valle uit die berge. Die stroompie loop sterk deur die vallei. Dis omtrent ‘n mooi prentjie. Die pad van Barrydale na Brandrivier neem ons weereens deur ‘n deel van ons land wat ongelooflike natuurskoon het. Ons ry parallel met die N2 net noord van die Langeberge. Die mense wat hier boer en woon moet ‘n ongelooflike sielsgerustheid hê. Mens wonder of hulle egter nog die mooi sien en beleef.
 

Die pad na Cloetes Pas is ongelukkig gesluit en ons draai weg na Vanwyksdorp.Die dorpie is gestig in 1839 as ‘n sending stasie.As gevolg van al die Van Wyks in die omgewing , kry die dorpie sy naam.  Dis nou weereens ‘n interessante dorpie die. Klein dorpie met stofstraate en groot ou huise . Natuurlik ‘n mooi kerk en ‘n vrolike polisie stasie. Die area word genoem Kanna Land en is in die Klein Karoo. Die grondpad daarvandaan neem ons in die rigting van Riversdale, deur die Garcia Pas, waar ons toe noodgedwonge moes aansluit by die N2 tot ons wegdraai in Tergniet. ‘n Roete van plus minus 340 km wat ons agt ure neem !
 








As mens in Tergniet kuier moet jy darem ‘n vissie ook braai. Ons sit af na Mosselbaai hawe om te kyk of ons dalk ‘n kabeljoutjie kan kry. Oppad daarheen stop ons eers by Boplaas se proelokaal langs die N2. Die plekkie verkoop oor Desember maande wat ek in ‘n jaar in Pretoria verkoop. ‘n Proetjie of twee veroorsaak dat ons weer met ‘n paar kissies wyn daar wegry. Die viswinkel in die hawe is ongelukkig toe maar ons kry darem ‘n geelstert te kope. Die C Gypsy restaurant in die hawe is die plek waar ons die res van ons saterdag middag deur bring.

Onwillekeurig moet ek ons roete terug Pretoria toe begin beplan. Weereens prober ons die hoof roetes vermy.Van Tergniet af dink ek moet ons Knysna se kant toe. Daar wegdraai deur Prince Alfreds Pas na Uniondale en die N9 na Aberdeen en GraaffReinet. Van Graaff Reinet   Middelburg toe  en dan oor Steynsburg, Burgersdorp tot in Aliwal Noord. Hier sal ons uitspan .

Tuesday 7 January 2014


n Besoek aan Onrus Karavaan Park is opsigselfs ‘n ondervinding en ‘n half.  Soos dit is, is karavaan park bewoners besondere mense. Dit is nie enige mens wat so kan vakansie hou nie. Onrus se karavaan park blyk besonders gewild te wees. Dit is baie mooi boomryk en langs die strand. Die ablusie blokke word ook baie mooi onderhou. Sekere mense bespreek hulle “plot” al ‘n jaar vooruit. Die staanplekke word jaarliks deur dieselfde mense bespreek, so ‘n familie band word half gevorm tussen die mense. Deesdae se kampgereedskap is dan ook van so aard dat die kampeerders baie goed ingerig is. Van solar panele vir krag tot Dstv skottels. Wasmasjiene, tv’s, vrieskaste en yskaste staan oral rond. Kinders ry met hul fietse in die stegies tussen die karavane deur en vreugde vure brand hier en daar.  Ek het besluit om bietjie vir die skoonfamilie ‘n volstruisnek potjie te maak so in die gees van karavaan. Dis gelukkig ‘n lekker sonskyn dag.  Die kinders is see toe en ons sit onder die tent afdakke en kuier.  Dis regtig ‘n belewenis.
 

 
 
 
 
Ons volgende uitstappie neem ons na die “Black Oyster Catcher” wyn kelder. Ons ry grondpad oor Elim ‘n dorpie in die strandveld wat in 1824 as sendingpos gestig is. Die oulikste witgekalkte rietdak huisies verwelkom jou langs die “hoofstraat”. Die sendelinge het nie net sending werk gedoen nie maar die plaaslike inwoners ook opgelei. Elim het dan bekend geword vir sy rietdekkers, messelaars en skrynwerkers. In 1891 was daar volgens die amptelike sensus 1500 inwoners en huidiglik is daar 2000 inwoners in die dorpie.
 

Die Black Oyster Catcher wynplaas is geleë in die Overberg distrik tussen Elim, Bredasdorp en Agulhas. Dit maak ook deel uit van die Overberg wyn produserende distrik. Ander areas in die distrik is Elgin, Greyton, Klein Rivier en Theewater. Dis ‘n nuwe distrik met baie goeie wyne. Veral die Sauvignon Blanc’s van die area is baie lekker. Die restaurant op die plaas sit vir ons ‘n geurige maal voor en natuurlik gebruik ons iets ligs van die omgewing. Nog ‘n opwindende uitstappie kom tot ‘n einde.

Friday 3 January 2014


Die nuwe jaar groet ons met ‘n wonderlike sonskyn dag. ‘n Ligte see briesie waai by die agterdeur in en gou is ons huisie gevul met die ongelooflike reuk van die see. Moet sê dis asof mens die jaar die see meer ruik as in die verlede. Met ‘n koppie moer koffie in die hand staar ek uit oor ‘n spiëel gladde see en wonder waar die wind ons hierdie jaar heen gaan waai.

Ons kan kwallik vir ‘n beter begin vir die jaar vra. Ons vriende van Pearly Beach nooi ons vir ‘n “Sunset Cruise” op die Klein Rivier by Stanford. Nog ‘n nuwe ondervinding en dit op die eerste dag van 2014. Die koelhouers word weer gepak en ons vat die pad Stanford toe. Die dorpie is uitgelê in 1865 op die plaas Kleinrivier wat behoort het aan Robert Stanford. Dis ‘n pragtige klein dorpie en die kerk is weereens iets besonders soos in baie klein dorpies.

Die Queen of Africa begroet ons op die Kleinrivier. Een van daai kuier bote wat ‘n dek bo en onder het. Wat my aantrek van die boot is die braaiers wat aan bakboord en stuurboord kant aangebring is. Dit is nou my tipe boot die. Daar is ook vier binnebande wat agter die boot aangesleep word sou jy bietjie wou afkoel as dinge te warm raak op die boot. Die vaart is so plus minus twee ure en is iets ongeloofliks . Om te braai op ‘n rievierboot is nou vir my iets besonders.

Wednesday 1 January 2014


Dis ‘n heel lekker huisie wat ons in Franskraal het. ‘n Lekker stoep met ingeboude braai en beskut teen die wind. Ongelukkig nie ‘n see uitsig vanaf die stoep nie maar darem kan ons die see sien as ons langs die huis sit.



Die dae gaan mos vinning verby as ‘n klomp vriende saam kuier. ‘n Gelag van vroeg oggend tot laat aand. Voor ons, ons oë uitvee is dit Sondag en een paartjie verlaat ons. Die aand gaan eet ons seekos by ‘n baie spesiale plekkie. “OPPI STOEP” is die huisie van Suzy Niemand. ‘n Vrou wat groot bydrae lewer in die vissers gemeenskap van Buffeljagsbaai. Die hout huisie het ‘n uitsig waarvoor mense miljoene sal betaal. Sy het die stoep van haar huisie omskep in ‘n “restaurant”. Plek vir net 15 gaste wat dit nog meer spesiaal maak. Al die kos kom vars uit die see uit en bestaan uit kabeljou, perlemoen en allekrik. Die broodjies word vars gebak en konfyt wat van suurvytjies gemaak word, word daarmee voorgesit. ‘n Eenvoudige  maar baie smaakvolle ete. Vroutjie koop toe amper al die vorraad konfyt wat te kope is en ‘n goeie kuier saam met vriende kom tot ‘n einde.



Die volgende oggend groet ons die laaste klompie vriende . Twee rustige dae lê voor en ons kan bietjie die omgewing om ons verken. Gansbaai gons van al die mense wat saam met die Groot Wit haaie wil duik. Ek het die staal konstruksie waarin die mense klim om die haaie te aanskou net een kyk gegee en besef ek beskik nog nie oor sulke  braafheid nie. Teen R1500-00 per person kan jy nie glo dat daar 8 bote permanent vol bespreek is nie .

Kleinbaai het nogsteeds die bekoring wat dit twee jaar gelede gehad het. Ek sal daar kan bly. Ons gaan stap die volgende oggend vroeg op die lang strand van Franskraal verby Uilkraal mond en vat ‘n lekker swem in die effe koue see. Oppad terug na die parker area sien ons hordes mense na die strand stroom. Die bote wat aan die Trans Agulhas wedvaart deelneem het ‘n “check point”  op die strand. Gelukkig het ons die verkyker in die motor en kon rustig sien hoe die manne die branders en waters trotseer.

Ou Jaars aand gaan ‘n ongelooflike kuier in die duine wees. Iets soos wat mens in die ou Peter Stuyvesant advertensies gesien het. Na ‘n rustge middag slapie pak ons die koelhouers en sit af na Pearly Beach vir die partytjies van alle partytjies. Die son sak vir oulaas in 2013 in die weste terwyl die vreugde vure lekker brand tussen die duine. Wat ‘n voorreg om so afskeid te neem van ‘n ongelooflike jaar. Ons kan maar net hoop en bid dat die nuwe jaar ook so lekker kan wees. 2014 sal egter sy sokkies moet optrek as hy naby 2013 wil kom!! Mag 2014 die jaar wees waarna almal verlang.




TOTSIENS 2013