Friday, 17 January 2014


Die C Gypsy restaurant in die hawe is die plek waar ons die res van ons saterdag middag deur bring.Sondag word die geelstert gebraai terwyl ons heerlik op die dek sit en kuier en oor die see uitkyk. My ou groot maat van Knysna kom kuier en die feesie hou aan tot in die vroëe oggend ure. Maandag gaan wys Ligblou hulle vir ons ‘n plek wat jy nie sou kon raai so naby die see kan wees nie.Dis die Botelierskop Privaat Wildtuin. ‘n 3000ha wildsplaas met die groot 5 skaars 10km van die see  af. ‘n Juweel wat baie min mense van weet. Verder gaan wys hulle vir ons die weelde van Ou Baai Golf Landgoed en ons ry ‘n draai deur Hartenbos waar ons ietsie geniet op ‘n stoep met ‘n hemelse uitsig oor die baai.

 
 







Onwillekeurig moet ek ons roete terug Pretoria toe begin beplan. Weereens prober ons die hoof roetes vermy.Van Tergniet af dink ek moet ons Knysna se kant toe. Daar wegdraai deur Prince Alfreds Pas na Uniondale en die N9 na Aberdeen en GraaffReinet. Van Graaff Reinet   Middelburg toe  en dan oor Steynsburg, Burgersdorp tot in Aliwal Noord. Hier sal ons uitspan .

Dis met ‘n tikkie hartseer dat ons op ‘n baie mooi dag die vriende by C the View gastehuis groet. Ons kuier by die see was inderdaad heel aangenaam. Die gedagte dat ons die laaste been van ons reis aanpak laat ‘n wrang smaak in die mond. Groet is nooit lekker  nie en selfs die staf kom groet ons. Gelukkig ry ons darem nog ‘n ent langs die see voor ons net buite Knysna die afdraai kry na Uniondale. Die paadjie begin met kronkels deur ‘n plantasie is is wonderlik mooi. Later word dit ‘n grondpad en voor ons weet ry ons deur die staatsbosse. Dis nou hier iewers waar Daleen Matthee se boek “ Kringe in die bos” moes afspeel . Die grondpad kronkel al hoe dieper die woud in. Vaarings staan soos ‘n erewag langs die pad terwyl klein stroompies verby hul vloei.
 
 
Die mint  reuk van die bloekom bome hang soos mis in die lug. Wat ‘n voorreg om die prentjie te kan beleef. Party plekke is die grondpad gehul in die koelte soos wat die boom toppe ‘n koepel vorm. Die stilte word verbreek deur twee motorfiets ryers wat van vooraf verby ons kom. Dit moet nou ‘n ondervinding en ‘n half wees om die paadjie met ‘n moterfiets te ry. Ons draai af na die groot boom  van King Edward VII. ‘n Geelhoutboom wat oor die seshonderd jaar oud is. Kan jy jou indink die stories wat die ou grote kan vertel. Die grootsheid van die woud laat mens klein en nietig voel. Die wandelpaadjie is 450 meter deur die woud. Iets besonders om te beleef. Gelukkig was daar niemand anders daar nie en kon ons die skoonheid van die natuur en bos in stilte beleef. Hier wil ek eendag ‘n vleisie kom braai in die piekniek area.
 
Ons ry al höer en höer met die paadjie die woud in. Later word die bloekombome al hoe minder en die dennebome al hoe meer. Die woud begin plek maat vir plantasies.
 
 Ons ry deur die Prins Alfred’s pas.Dis weer een van Thamas Bain se meesterstukke, Die pas is in 1866 gebou ,is 80.5km lank en 1040 meter bo seespiël op sy kruin. Dit maak dit sy  langste pas wat hy gebou het. Weereeens ‘n ondervinding wat mens nie regtig in woorde kan omskryf nie
 
. Na die asemrowende ondervinding word ons begroet met ‘n besonderse mooi kerk in Uniondale.
Die dorpie het in 1865 ontstaan met die samesmelting van Hopedale en Lyons en is natuurlik bekend vir sy spookstorie.
 
 

No comments:

Post a Comment