18 Julie 2012
Die veel beminde Madiba is vandag 95 jaar
oud. Hy lê al vir 'n maand of meer in die Pretoria Hart Hospitaal met ’n long probleem?
Klink soos ons land. Lê hier maar die probleem is elders.
Vandag het ek nie 'n gedagte nie. My kop
is elders maar ek is nog hier. Een van daai dae wat ek 'n bottel Havanna Club 7
Anjos wil oop maak en na die Blues luister.As ek gerook het sou ek 'n pyp wou
aansteek. 'n Teug van die rum , 'n trek van die pyp en deur die waasigheid van
die rook die verte in staar. Ek vermoed Johan C Bakkes se boek "
Norrafok" het iets met die gemoedstoestand van my te doen . Ek is opnuut
die swernoot in vir die Spanjaard wat my dagboek, in die Soweto Shibeen in
Barcelona, tussen die lugreëling motors ingesit het om die rattle weg te
vat. As ek so die vername manne se boekke lees kon die Spaanse hoofstuk van my
lewe 'n "Best Seller" gewees het. So mis mens geleendhede in die
lewe. Party sien 'n mens raak en ander glip by jou verby. Een ding is verseker,
nooit sal 'n trip nie weer geboekstaaf word nie.
Hier het ons al 2 keer Pilansberg toe gegaan en niks is opgeteken
nie! Nie dat daar nie iets gebeur het nie! Ek en Karretjies glip die ander
naweek weg Kwa Maritane toe. Lekker naby en in die Pilansberg Nasionale Park.
'n Baba wildtuin van 55 000 hektaar. Lekker grond paaie, hier en daar
onbegaanbaar vir die Corolatjie,maar meestal rybaar. 'n Paar stukkies
teerpad ook om net rustig te raak. Dit word geadverteer dat die Park die Groot
5 in het. Al die vorige kere wat ons al daar was het ek nog net 2 van die 5
gesien. Oom Olifant (baie) en wit Renosters (ook baie). Een keer 'n Swart
Renoster gesien. Van leeus en luiperds was daar net sprake. Op een besoek het
'n vriend die veldwagter gevra of daar leeus in die park is. Die veldwagter
deel ons mee dat daar 'n volle 40 leeus is. Op sy droeë manier vra vriend
toe" en hul naampies is?
"
Die keer was anders. Saterdagoggend ry ek
en vroutjie vroeg uit die kamp uit. Opgewonde om te gaan diertjies kyk. Ons
hoop maar altyd om van die kat spesie te sien maar net die lekkerte om stadig
deur die wildtuin te ry is al klaar 'n bonus. Die middag kry ek 'n sms van 'n
vriend. Iemand het leeus teë gekom waar hulle lê en eet. Op of langs die
teerpad by Mankwe Dam. Waar daar ‘n samedrom van karre is,is die moontlikheid
altyd groot dat daar katte is. So sien ons die stoet karre staan en wag maar
geduldig ons kansie af om iets te sien. Iets wat die gemiddelde wildtuin
besoekker blykbaar glad nie vertaan nie. Sowat van selfsug het ek lanklaas in
my lewe beleef. Ja die mensdom. Ons kry ‘n blik van die leeus maar die gras is
lank en die karretjie laag. Heel tevrede ry ons terug kamp toe om ‘n vuurtjie te
gaan aansteek…………..
No comments:
Post a Comment