Tuesday 27 May 2014

15 Mei 2013

Brenhilda Alldays Distrik Limpopo

Hier sit ek in die lapa op oom Jopie se nuwe jagplaas, BRENHILDA. Lyk my die Doorvaart dae is verby. Hier is ‘n groot huis met tv’s, yskaste ,kombuise, sitkamers en eetkamers. ‘n Bietjie fancy vir my maar nou ja. Dit bly in die bos en dit bly lekker. Baie dinge het verander van die eerste keer wat ek saam met my pa mag gaan jag het. Dit was in 1975. Ek en pa het saam met ‘n vriend van hom, Professor Nic Maree , en sy seun Coennies , op oom Stoffel Mattee se plaas gaan jag. Die plaas was aan die oewers van die Limpopo Rivier net wes van die Pontdrift grenspos. Evangelia 33 was die sentrale se roepsyn. Oom Stoffel het saam met ons die bosse ingery en onder ‘n groot Maroela boom  gaan stop.” Hierso manne” het die oom ons kampplek aangekondig. Ja net daar in die veld! Geen krag , geen lopende water geen niks. ‘n Plekkie waar ons die vuur kon maak in die sanderigge grond. Gelukkig het ons darem ‘n tent gehad. Ons seuns het in die aande sommers langs die vuur geslaap. Pa het net altyd ‘n klip of stoel tussen my en die vuur gesit sodat ek nie in die nag in die vuur kon rol nie. Goeie ou dae.

Oom Jopie wys my my slaapplek. Dis in die “ramkamp”. Een groot vertrek met 4 beddens en ‘n pool tafel. Daars ‘n badkamer met ‘n stort, maar baie min warm water. Pa het my sommer met die tuinslang by die plaashuis afgespuit na ‘n week in die veld. Nou stort ek elke keer wanneer ek uit die veld kom. Na ‘n rustige braai gaan slaap ons redelik vroeg. In ‘n bed in ‘n gebou. Nee man waar is die veld en slaapsak.

Vroeg oggend na ‘n lekker koppie boere koffie gaan skiet ek my geweer in. Dis ‘n paar jaar wat ek laas met die 303 geskiet het. Hy lê maar in die geweersak in die kluis. Dis lekker om die geknal van ‘n skoot in die vroeë oggend te hoor. Die reuk van die vroeg oggend veld en die van kruit maak my tuis voel. Ek wil amper sommer in die grond gaan rondrol. My eerste skoot was in die kol van die papier teiken. Nou kan ek maar veld toe gaan. Ek en ‘n gits stap die vroeg oggend veld in. Dis ‘n reuk wat mens nie kan beskryf nie. Ek wou eintlik alleen gaan stap maar ken nie die nuwe plaas nie. Op Doorvaart is ek altyd op ‘n punt afgelaai. ‘n Tyd word dan gegee wanneer die ooms my weer by ‘n ander punt sal optel. Gewapen met my 303 , 3 rontes, knipmes en ‘n stuk toiletpapier word ek dan afgelaai.( die toiletpapier word gebruik om die veld te merk waar die bok le). Die snellerkamer van die geweer is yskoud so vroeg in die oggend. My baadjie los ek maar op die bakkie want later raak dit warm dan is die ding in die pad. Ek sou sommer so ent in die bos in stap en dan onder ‘n boom gaan sit vir ‘n rukkie. Net om die klanke van die veld in te neem en om bietjie “een ” te raak met die veld.


Dis soms amazing wat mens waarneem net deur stil te sit. Al die verskillende voëls wat jy sien. Partykeer sommer ‘n patrys of tarentaal wat hier by jou verby skoffel in die grond. As jy gelukkig is ‘n vlakvark of bok wat naby jou verby loop. ……….(vervolg)

Wednesday 21 May 2014

11 September 2013

So het ons vandag nog ‘n groot gees gegroet.Prof. Fritz Elof. Wat ‘n merwaardige , formidabele man! Nog ‘n natuur liefhebber wat ‘n groot man was.  Nie in postuur so groot soos sy impak op die mensdom nie.Die man wat een was met die Kalahari Leeu. ‘n Man wat dit eens kwyt geraak het dat hy en sy makkers nie goed genoeg was vir ‘n honger leeu nie. Dit nadat hy een nag in die Kalahari ‘n groot leeu mannetjie in die oë moes kyk toe hy ‘n draai wou loop. Sy makkers rustig aan die slap langs die vuur.’n Man wat hom nederig gemaak het voor ‘n leeu!

Is dit nie eienaardig hoe sekere mense paaie loop saam met een van die groot 5 van die natuur nie. Mense wat intense studies gedoen het oor die wel en wee van die diere. Wat agter gekom het hoe merkwaardig die diere is en hoe nietig ons mensdom eintlik is. Ek dink onwillekeurig aan Lawrence Anthony. Ook bekend as “ the Elephant wisperer”, en sy merkwaardige verhaal van een met ‘n trop olifante. ‘n Trop wat uitwissing in die gesig gestaar het.’n Trop wat hy weer “mak” gemaak het.Verhale soos die wat mens weer nederig voor God se skepping maak.


Ons moet elke moontlikke oomblik gebruik om hierdie wonderbaarlikke skepping met passie te geniet maar ook verantwoordelik! Ons moet uit ons pad gaan om dit te bewaar. Ons kinders moet daarvan weet en dit ook met respek behandel en bewaar. Daar is in die lewe niks meer “humbling” as om met ‘n dier ‘n oomblik te kan deel nie. Van ‘n interne oomblik met ‘n troeteldier tot met ‘n wilde dier. ‘n Voëltjie wat uit jou hand uit eet of ‘n bok wat net naby jou staan en wy. Die grootste les wat mens van die 2 manne kan leer is RESPEK en VERTROUE! Daarsonder is ons niks en sal ons ook nooit iets wees nie.

Thursday 15 May 2014

Soos een besluit ek en vroutjie om die Sondagoggend effe in te lê en dan te ry. So skuins na 7 ry ons by Kwa Maritane se hek uit. Skaars 2km en hier staan Ta in die pad.’n Jong leeu mannetjie wat met ‘n waterbek kyk na ‘n paar vlakvarke!. My aankoms het ‘n spanner is sy works gegooi en hy stap die veld in. Groot was ons verbasing toe ons die ander 3 leeus sien! So wragtag net hier by die kamp. Die leeus begin in die rigting van die kamp stap. Al langs die voet van die koppie. Ek besluit om om te draai. Daar is ‘n watergat by die kamp. Miskien gaan hulle daar water drink ,dan kan ons hulle mooi sien. Ek ry skaars 600 meter toe ek die gesig in die lang gras langs die pad sien uitsteek. Dit kan nie waar wees nie. ‘n Luiperd loer versigtig na ons voordat hy terug in die gras verdwyn. Dis een van daai split sekonde oomblikke wat jy nie kan afneem nie en wat mense jou ook nie gaan glo wat jy gesien het nie. Gelukkig het vroutjie dit ook gesien.

 Half in ‘n trans ry ek verder maar my moed begewe my en ek draai weer om. Ons moet nog die olifante gaan soek. Ek kan nie die Pilansberg deur ry sonder om ‘n olifant te sien nie. Rustig en stadig ry ek weer die paadjie af na die Park hek. Ek trap die briekpedaal amper dwars deur die vloerbord van die Corolatjie. Suutjies, geruisloos, maar blitsvinnig hardloop die luiperd voor ons oor die pad en verdwyn soos mis voor die son die grasse in. WOW! Dit bly maar ‘n asem wegslaan moment en ‘n pragtige dier om in sy natuurlikke omgewing te sien!. Ons dag en naweek is gemaak! Rustig ry ons die paaie van die park en kyk na die kleiner dinge wat mens nie gewoonlik na kyk  nie. Die geluksgodin is met ons en nie veel later sien ons sommer ‘n trop Olifante! Grootes, kleintjies, tieners en so aan . Wat ‘n wonderlikke voorreg on God se skepping so te kan ervaar

Wednesday 14 May 2014

18 Julie 2012

Die veel beminde Madiba is vandag 95 jaar oud. Hy lê al vir 'n maand of meer in die Pretoria Hart Hospitaal met ’n long probleem? Klink soos ons land. Lê hier maar die probleem is elders.

Vandag het ek nie 'n gedagte nie. My kop is elders maar ek is nog hier. Een van daai dae wat ek 'n bottel Havanna Club 7 Anjos wil oop maak en na die Blues luister.As ek gerook het sou ek 'n pyp wou aansteek. 'n Teug van die rum , 'n trek van die pyp en deur die waasigheid van die rook die verte in staar. Ek vermoed Johan C Bakkes se boek              " Norrafok" het iets met die gemoedstoestand van my te doen . Ek is opnuut die swernoot in vir die Spanjaard wat my dagboek, in die Soweto Shibeen in Barcelona,  tussen die lugreëling motors ingesit het om die rattle weg te vat. As ek so die vername manne se boekke lees kon die Spaanse hoofstuk van my lewe 'n "Best Seller" gewees het. So mis mens geleendhede in die lewe. Party sien 'n mens raak en ander glip by jou verby. Een ding is verseker, nooit sal 'n trip nie weer geboekstaaf word nie.

Hier het ons al 2 keer Pilansberg toe gegaan en niks is opgeteken nie! Nie dat daar nie iets gebeur het nie! Ek en Karretjies glip die ander naweek weg Kwa Maritane toe. Lekker naby en in die Pilansberg Nasionale Park. 'n Baba wildtuin van 55 000 hektaar. Lekker grond paaie, hier en daar onbegaanbaar vir die Corolatjie,maar meestal rybaar.  'n Paar stukkies teerpad ook om net rustig te raak. Dit word geadverteer dat die Park die Groot 5 in het. Al die vorige kere wat ons al daar was het ek nog net 2 van die 5 gesien. Oom Olifant (baie) en wit Renosters (ook baie). Een keer 'n Swart Renoster gesien. Van leeus en luiperds was daar net sprake. Op een besoek het 'n vriend die veldwagter gevra of daar leeus in die park is. Die veldwagter deel ons mee dat daar 'n volle 40 leeus is. Op sy droeë manier vra vriend toe" en hul naampies is?
"
Die keer was anders. Saterdagoggend ry ek en vroutjie vroeg uit die kamp uit. Opgewonde om te gaan diertjies kyk. Ons hoop maar altyd om van die kat spesie te sien maar net die lekkerte om stadig deur die wildtuin te ry is al klaar 'n bonus. Die middag kry ek 'n sms van 'n vriend. Iemand het leeus teë gekom waar hulle lê en eet. Op of langs die teerpad by Mankwe Dam. Waar daar ‘n samedrom van karre is,is die moontlikheid altyd groot dat daar katte is. So sien ons die stoet karre staan en wag maar geduldig ons kansie af om iets te sien. Iets wat die gemiddelde wildtuin besoekker blykbaar glad nie vertaan nie. Sowat van selfsug het ek lanklaas in my lewe beleef. Ja die mensdom. Ons kry ‘n blik van die leeus maar die gras is lank en die karretjie laag. Heel tevrede ry ons terug kamp toe om ‘n vuurtjie te gaan aansteek…………..