Ek en Petrus die jafta en spoorsnyer/gits word afgelaai en
stap die veld in. My hart klop in my keel. Die adrienalien is hoog die eerste
keer wanneer jy die veld instap. In die begin is mens nog lomp in die veld. Ek
trap elke takkie raak en struikel oor elke klip. Elke nou en dan kyk Petrus net
om en skud dan sugtend sy kop. As daar nie ‘n effense windjie waai nie hoor die
bokke jou myle ver aankom. Dit klink seker vir hulle soos ‘n olifantbul wat
aangestap kom. Na ‘n uur of wat kom ek reg en loop bietjie sagter
. Skielik gaan
sit Petrus op sy hurke. Hy wys vir my skuins voor wei daar ‘n groot rooibok ram.
My hart wil uit my keel spring. Gelukkig het ek nog nie bokkoors gekry nie.
Daai gevoel wat jou beetpak dat jy die bewerasies begin kry en nie die sneller
kan trek nie. Ek mik vir ‘n kopskoot. Dis eintlik die verkeerdste ding om te
doen vir jou eerste skoot van die seisoen. Ek neem dooie rus op Petrus se
skouer. Die skoot knal…….niks val. Dit wat ek al my jare van jag vrees gebeur.
Ek mis die bok heeltemal. Ek kan dit amper nie glo nie. Op 50m het ek ‘n
kolskoot geskiet toe ek my geweer gaan inskiet het. Deksels man. Skielik is ek
bly pa is al oorlede. As ek hom dit moes vertel was ek dalk oorlede. Ons soek ‘n
bloedspoor of iets maar kry niks. Ek het sowaar loshande mis geskiet. Ons stap
maar verder maar my gemoed is in my skoene. Dis ‘n baie groot vernedering as
die ooms jou kom optel en hulle vra wat jy geskiet het. Die skoot word myle ver
gehoor. Dan moet jy maar erken dit was ‘n fout van jou kant af. Gewoonlik is
daar darem ‘n koelbokssie op die bakkie en na ‘n paar koues en jou storie lag
almal en jy word vergewe. Probeer maar volgende keer weer ou maat.
Na ‘n lekker brunch en ‘n bietjie rus word die bakkie
gestart. Die keer is dit net ek en Petrus. ‘n Kwart uur later word ons
afgelaai. Ek probeer my rigting hou maar is effe gedisorienteerd. Petrus vat
die voetpaadjies en ek sit agterna. Die wind warrel vandag en kort kort moet
ons rigting verander om onder die wind te bly. Maar o wee. My Suidwes vellies
en grote liggaam kan maar nie geruisloos deur die veld beweeg nie. Elke nou en
dan wys Petrus ek moet stop en luister. Jy hoor daar hardloop iets. “Gemsbokke
of Zebras” sal hy moedeloos sê. Ons hoor rooibok ramme roggel hul liefdes
roepe. Dis nie vêr van ons af nie. Skielik lig Petrus sy hand op. Ek buk
dadelik. Kan ongelukkig nie meer op my hurke sit nie. Rugby speel het daai
voorreg lankal ontneem. “Die kant toe. Kyk daar voor” fluister Petrus.
Aanfanklik sien ek eers niks. Toe sien ek die wit van ‘n rooibok se stert uit
die hoek van my oog. Hier is groot fout dink ek. Die rooibokram kom reguit op
ons afgestap. Hy ruik of hoor ons glad nie. Ek gaan staan doodstil met die
geweer in my skouer. My hart klop in my keel. Ek kan of mag nie die een mis
nie. Skaars 30 meter van my af loop die bok voor my verby. Hy kom agter ‘n bos
uitgestap en is reg in my visier. Die keer sit ek die visier agter sy blad.
Petrus fluit om die bok te laat stil staan maar sonder sukses. Ek haal diep
asem. My vinger op die sneller. Die volgende oomblik word die stilte versteur
deur die knal van ‘n skoot. Ek sien hoe die rooibok soos ‘n wafferse springbok
die lug inspring. AG NEE! Nie weer nie. Het ek dan nou die keer die bok gekwes.
Kan nie wees nie. Petrus loop kop onderste bo. Dit lyk of hy ‘n bloedspoor
soek. My moed sak in my skoene. Skielik draai Petrus om met sy duim in die lig.
Ek sien niks en stap bietjie vinniger in sy rigting. Groot is my verligting toe
ek die bok sien lê. My naam is darem so effe in ere herstel.
No comments:
Post a Comment