O VELSKOEN!
Volgens Wikipidia was die eerste vellies in die 17de eeu
deur die eerste setlaars aan die Kaap
gemaak. Hulle het dit op die Khoisan se skoeisel gebaseer. Vel van wild
of bees is gebruik vir die doel. ‘n Sterk skoen wat gemaklik genoeg was om oor
die berge mee te trek!?
Ek vemoed ek het my eerste paar vellies in standard 5 gekry.
Gryses met ‘n gelerige plastiek sool. Daarna moes daar seker verskeie gevolg
het tot daai dag. Die jaar 1989. Ek het by die destydse Krygkor gewerk. Iemand het
ons laat weet dat daar ‘n ou was wat Suidwes vellies verkoop het. Koedoe leer
vellies. Opslag was ek daar en het my vellies bestel. Die beste koop van my
lewe! Kerk toe, rugby toe , braai toe oral toe. Selfs werk toe.
Natuurlik is Dubin ‘n vellie se sielsgenoot. Hulle is nooit
te ver van mekaar af nie. Gereeld word die vellie gestreel deur n dubin lappie.
Die hou sy vel lekker soepel en sag. Soos die vrouens ook daarvan hou! My
Suidwes vellies was vir lank die enigste paar wat ek gehad het. Elke paar jaar
dan word hulle net weer hersool en is dan weer goed om te gaan.
Op ‘n kol kom ek te hore van die dorpie WUPPERTHAL in die
Cederberge van die Wes Kaap. ‘n Nedersetting wat in 1830 deur 2 Duitse
sendelinge ene Theobold von Wumb en Johann Gottlieb Leipoldt gestig is. Daar is
‘n skoenfabriek op die dorp waar die ouens nog skoene met die hand maak.
Vellies. Mens moet darem so paar handgemaakte vellies van Wuppertal ook he. Dis
ook die ideale vellies om in te trou.
April 2012 is ek en my verloofde oppad Paternoster toe om te
gaan trou. Ons oornag in Victoria Wes voordat ons die pad vat Paternoster toe.
Eers moet ons Wuppertal deur sodat ek my trouskoene kan gaan koop. Soos
gewoonlik is ek nie te besorg oor grondpad ry nie en die Toyota Corolla geniet dit ook. So ent van Calvinia af op die R27 draai ons van die pad af op die R364 rigting
Doringbos. ‘n Lekker grondpad en die Toyota gedra hom mooi. Net voor my
verloofde te veel kan kla oor die stof op haar trourok begin dit reen. Dit is
altyd ‘n belewenis om reen in daai deel van die land te ervaar. ‘n Paar
glytjies hier en daar het die senuwees bietjie aan die gang maar niks te erg
nie. Die landskap is ongelooflik mooi soos ons afsak na Wupperthal. ‘n Ander
wereld! Ons stop opgewonde voor die skoenfabriek! Dis net voor 3 in die middag.
Groot is my teleurstelling toe ek moet verneem dat die winkel gesluit is en die
manne met n vraggie skoene oppad Clanwilliam toe is. Daar gaan my trouskoene!
Ongelukkig was daar nie tyd om in Clanwilliam te stop nie en vat ons toe maar
pad oor Citrusdal na Paternoster. So 3 en ‘n half ure se ry volgens Google
maps. Ons het egter eers na 7 in Paternoster gestop. Skoenloos!
Ek het my nie laat onderkry daardeer nie en ‘n paar jaar
later stop ek weer net voor 3 voor die fabriek. ‘n Man is net besig om die deur
te sluit. Nadat ek vir Arnold ontmoet het was hy vriendelik genoeg om vir ons
oop te sluit. Hy vra watter nommer ek dra want hulle het nie voorraad nie hy
sal moet maak. Ek dra gewoonlik ‘n nommer 9 skoen maar Arnold het my voete so
een kyk gegee en besluit ek is ‘n nommer 8. Nou ja as die skoenmaker so se wie
is ek om te stry. Ek’s net te opgewonde om my handgemaakde Wupperthal vellies
te kon bestel. Ek betaal met ‘n glimlag die R500 rand, wat verskeping na
Pretoria insluit, en Arnold kan sy fabriekie sluit. Arnold bly al in die
omgewing sy lewe lank. Hy stap elke oggend 11km na die werk en vannaand weer
die 11km terug huistoe. Op ‘n vraag hoekom hy nie ‘n fiets het nie vertel hy dat
hy een gehad het maar het die vir sy seun gegee. “ Meneer sien ek is nie
eintlik ‘n fiets mens nie” Tevrede laai ons Arnold naby sy nedersetting af en
vat die pad. Die keer oppad na Victoria Wes.
Na so 2 benoude
oproeppe na Arnold het ek so 4 maande later my nommer 8 vellies in die pos gekry.
Nommer pas en so lig soos ‘n veer! Baie dankie Arnold!
My skoonouers woon op Victoria Wes. ‘n Klein dorpie in die
Karoo. ‘n Plek wat ek baie verlief op geraak het. Die Karoo het maar net sy eie
bekoring ! Hulle huis is baie naby aan die NG Kerk en die kerk klok slaan nog
elke uur op die half uur. Nou ja so
dorpie kan mos nou nie anders as om ‘n kooperasie te he nie.
My gunsteling winkel in die Karoo. Ek kan ure deur die rakke drentel en na alles
kyk. Van al die pyp “fittings” tot die tange en ander gereedskap. Daar moet
natuurlik oorpakke en stewels ook wees. En vellies. ‘n Man kan darem nou
wraggies nie tyd in die BKB spandeer en nie ‘n paar Karoo Vellies aanskaf nie.
Op een van ons trippies Kaapland se kant toe laat my vrou my
stop by Dassiesfontein padstal op die N2 net voor Caledon. Wat ‘n interesante
besigheid is dit nie. Van ou koolstowe tot perlemoen is daar te koop. Ons loop
deur die stalle en gou vang my oog iets waarin ek belangstel. Ja vellies! Nie
watse vellies nie , gekleurde vellies. Die rooi paar skreeu vir my. Dit lyk nou
nie soos David Kramer s’n nie maar dis mooi en dis rooi. Nommerpas en in my
noppies is ons daar weg met my rooi vellies.
’n Jaar of wat later is ons weer daar en die keer koop ek
mooi blou vellies!
My ou Suidwes vellies is nou amper op die stadium dat hulle
kan aftree. Dis tyd vir ‘n nuwe paar. Die paar gaan ek in Suidwes self moet
loop haal. Daar’s grondpaaie daar wat ons nog nie gery het nie.
Ek se baie dankie aan die Khoisan vir die wonderlike
skoeisel wat julle aan ons voorvaders bekend gestel het. Dit maak regtig baie
lekker skoene.