Wednesday, 21 December 2016

PAD VAT 2016

(Dankie Ernst Grundling en Toast Coetzer vir die mooi woord)


Kwart oor 6 Vrydag 16 Desember 2016 vertrek die 2 Toyotatjies vanaf Pretoria na Victoria Wes. Iewers tussen Klerksdorp en Bothaville trek ons onder bloekombome in langs die pad.’n Lekker koppie koffie en toebroodjie maak die gatjie vol en kan ons weer padvat! Bothaville, Hoopstad na Boshoff. ‘n Lekker ou stukkie grondpad voor Boshoff maak my opgewonde! More gaan ons weer grondpaaie ry! In Kimberley maak ons die karre se pense vol diesel en druk deur Victoria Wes toe. So 20 km voor Britstown stop ons by die Kamdebo padstal. ‘n Fraaie padstal met al wat snuistery is om te koop. Als het omtrent ‘n windpomp motief op. Na ‘n smaaklik`e springbok pastei en koue bier durf ons die laaste 100 km aan.


Victoria Wes maak redelik vroeg toe op ‘n vakansie dag. Nerens kan ons ys kry nie! Ons tel ons skapie op vir die vakansie en gaan pak af. Ons gaan vanaand eet by die Moonlight Manor gastehuis wat 100m af in die stofpad is.  Swen en Schalk is ons gashere. Ons geniet eers ‘n koue enetjie onder ‘n druiwe prieel voor ete. En toe gebeur dit! ‘n Bord kos word voor ons neergesit wat net sowel as ‘n skildery op ‘n muur kon hang. Skaapskenkel met gebakte aartappels en groente! Saam met die nodige wyntjie, ‘n gastronomiese orgasme!! Die nagereg bring ‘n goeie einde aan dag 1 van Padvat 2016! 
  
17 Desember 2016

Ons word wakker gemaak deur musiek wat iewers oor ‘n luidspreker gespeel word. Ou musiek. Gekrapte plaat musiek! Dit klink kompleet soos ‘n mars wat voor ‘n atletiek byeenkoms oor  speakers gespeel word. Van Jim Reeves tot verby Ivan Rebroff. Genade iemand het iewers ‘n skroef los! Ek moet gaan kyk waar die musiek vandaan kom. Ek kon my oe nie glo toe ek die koster van die NG Kerk sien iutstap uit die kerktoring nie. Daar bo neffens die klok steek daar ‘n speaker sy kop uit. Het die man nou heeltamal sy kop verloor. 6uur op ‘n Saterdag oggend kom versteur hy die stilte van ‘n Karoo dorpie met musiek uit die kerk toring uit! Oom Dirk draai sweerlik in sy graf om!

Na ‘n lekker koppie koffie en skoonma se tuisgebakte beskuit vat ons die pad na Murraysburg. Een van die mooiste paaie begroet ons aan die anderkant van die N1. Moet se dis nogals lekker om so oor die N1 te ry en nie op hom nie! Murraysburg is ‘n baie mooi skoon Karoo dorpie. Dit lyk nie op die oog af of daar veel aangaan nie maar die dorp is skoon.  



Van daar ry ons na Graaf Reinette. Seker so 20 km voor die dorp kry ons die Kamdebo Natuur Reservaat. Dis hier waar die Vallei van Verlatenheid is. Ons betaal ons footjie by die hek en ry die Park binne. Spekbome staan groen teen die hange van die berg. Grotes! Ons klim en klim tot by ‘n uitkyk punt. Daar doer onder ons le Graaf Reinette. Ongelooflike uitsig! Na so 200 meter se klim teen die hoogtetjie uit kom ons by die punt aan. Asemrowend is al wat ek kon uitkry. Geen wonder Pierneef het die toneel geskilder nie. Dis voorwaar mooier as “Gods window” in die oos Transvaal!




Van Graaf Reinette ry ons Aberdeen toe. Nog ‘n klein Karoo dorpie maar die enetjie lyk oes. Vervalle geboue en strate vol slaggate! Volgens die beplanning gaan ons nou ‘n entjie  teerpad ry en dan afdraai na Rietbron. Iewers  ry ek die paaie mis en kom ek teleurgesteld agter dat ons op die N9 is. Waar het ek dan die padjie gemis. Ons stoot maar aan en kry later ‘n afdraai Rietbron toe. Lekker grondpad na die dorpie in die middel van absoluut niks. Dis klaarblyklik Angora bok wereld. Ryk boere vertel hulle my. Die dorpie is baie klein en daar gaan ook nie veel aan nie.



 Nou is dit oop en toe Meiringspoort toe. Die plan was om in die poele te gaan swem maar vader tyd is teen ons.  Meiringspoort bly darem mooi. Die kronkelpad tussen die reusagtige berge laat mens klein voel. Die arme mense wat die paaie moes bou. Daar is 25 driwwe waaroor mens ry. Die lekker braai plekke is vol en die vure ruik al te lekker. Ons gastehuis is net na die poort op regterkant. De Meiyers’ Rust. ‘n Werkende plaas met ‘n paar chalets vir oorslaap. En een kothuis bo in die berg. Gelukkig ry die Toyota baie maklik die styl bult uit en bo word ons begroet deur die aller oulikste klip huisie. 


So tussen die Bonsmaras en Elande saal ons af. Die kuier gedeelte is uit ‘n boek uit en vinnig hoor jy die geklingel van ys in die glase. Die nag word lank en vrolik en gelukkig hoef ek nie bult af nie. Dis my reis genoot se probleem. Ons slaap soos babas in die stilte en word die keer darem nie met ‘n gebler van musiek wakker nie. Nee die keer is ons wekker die bulk van ‘n bees by ons slaapkamer venster!