Wednesday, 17 September 2014

Ons toer neem ons nou van Steytlerville in die rigting van Oudtshoorn. So n “road trip” moet ook darem nie te organiseerd en vooraf beplan wees nie. So hier gaan die paaie en die omgewing ons roete rigting wysers wees. Daar is soveel opsies. Dalk weer oor die Swartberg pas of dalk bietjie deur Meiringspoort. Oor De Rust na Oudtshoorn en dan Calitzdorp  se rigting toe of sommer George om. George om moet jy egter die N2 ry  na Pearly Beach toe en daarvoor is ons nie lus nie. Ons probeer maar hou by die agterpaaie. Daar lĂȘ net soveel meer pret daarin om van die hoof roetes af weg te bly.

Ons kuier vir ‘n deel van die vakansie so tussen Pearly Beach en Kuilsrivier.

 In die nuwe jaar sal ons die pad vat na die Weskus. Yzerfontein toe om presies te wees. Daar moet ons bietjie probeer rus na al die prettighede voor, tydens en na Kersfees en Nuwe jaar. Dan begin die opwindende roete terug Transvaal toe. So bietjie langs die weskus op en dan na Wuppertal. Daar waar ek my trou vellies wou koop maar nie kon nie aangesien die fabriekkie toe was. Die keer sal ons ook nie so sukkel om weer terug te ry vanuit die vally nie. Vorige keer moes ons die styl pad met die Corolatjie uit kruie. Dis is ook een van die mees asemrowende dele van ons mooie land. ‘’n Lekker grond pad vat ons van daar na Calvinia en Carnrvon. Hier is ‘n hotelletjie wat bekend is vir sy blikkies bar. Die hele kroeg is glo vol allerhande bier en koeldrank blikkies. Dit behoort ook ‘n nuwe en lekker ondervinding te wees. Vandaar gaan ons oor die Kareebospoort – en die Volstruispoort passe na Vosburg. Dan met ‘n grondpaadjie na Sodium en by Strydenburg sluit ons aan by die N12. Ek vermoed vandaar sal dit net oop en toe wees terug huistoe!

Wednesday, 10 September 2014

Ek kan nie glo dat daai tyd van die jaar weer met ons is nie! Dis wraggies nog net 3 maande tot verlof tyd. Die jare begin nou heeltemal te vinnig verby gaan! Maar groot opgewondenheid het my beet gepak want dis tyd om weer die kaart boek nader te trek. Iets wat bleikbaar nie meer baie gebruik word nie. Vriende van my se 9 jarige seun was erg verbaas om die boek te sien? "Oom my pa kyk sommer op sy foon waarheen ons moet ry". Ja dis seker gemaklik op jou foon en google maps te gebruik, maar 'n gebruikte padkaart het maar net sy eie bekoring. Nie dat ek nie ook google maps gebruik nie! Dis veral handig om die afstande te bereken. So die tweetjies werk hand aan hand!

Die jaar is die tog weer af suide toe, see toe, Pearly Beach toe. Die roete moet egter verander. Ons moet bietjie die ooste van Suid Afrika ontdek. 'n Deel van die land wat ek nie goed ken nie. Veral die oos Kaap. Soos ouder gewoonte gaan ons probeer om die hoof roetes te vermy. Die N roetes.

 Van Pretoria af Oos Vrystaat toe. 'n Tikkie van die N3 sal ek moet trotseer van Pretoria tot Villiers waar ek kan wegdraai na Frankfort. Dan oor Reitz en Bethlehem na Clarens. Daar sal ons afsaal en bietjie die skoonheid en gasvryheid van die kuns dorpie inadem. Die dorp van Vader Claerhout, sandsteen geboue en Mikro brouerye!

 Vandaar al langs die Lesotho grens oor Zastron na Lady Grey en vandaar na Barkley Oos. Dan 43km tot by die Mountain Shadouw Hotel. Hier kuier ons vir 2 aande. Ons gaan die Naude's nek pas aandurf en dan die Bastervoet pas. As ons die twee passe oorleef het vat ons pad Adelaide, Bedford, Somerset Oos se kant toe. Ja al die Briste name vir die dorpe hier in die oos kaap. Ons gaan aandoen by Jansenville , die dorp van die groot film maker Oom Jans Rautenbach, voor ons weer afsaaal op Steytlerville. Dit behoort 'n interessante ondervinding te wees aangesien ons tuis gaan in die Karoo Teater Hotel!